Malema kry salaris tot ná appèlverhoor
2011-11-10 12:33
Johannesburg – Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, is uit die ANC en die jeugliga geskors met volle betaling totdat die appèlproses afgehandel is, het Jackson Mthembu, woordvoerder van die ANC, gesê.
Malema is tot effektief vyf jaar geskors.
Mthembu het bevestig dat Malema op sy volle betaling geregtig is tot sy appèl aangehoor is.
Hy is skuldig bevind op die eerste aanklag dat hy verdeeldheid saai in die party nadat hy gesê het die Afrika-unie (AU) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) is van koers af sedert oudpres. Thabo Mbeki nie meer staatshoof is nie. Hy is ook skuldig bevind op aanklag dat hy die ANC in oneer bring oor sy uitlatings oor Botswana. Malema is egter onskuldig bevind op aanklag van rassisme oor uitlatings wat hy in Mei op 'n saamtrek gemaak het.
Derek Hanekom, voorsitter van die ANC se nasionale tugkomitee, het Donderdag gesê die "respondent sal sy pos as president van die ANC-jeugliga ontruim".
"Malema het die stand van die ANC en Suid-Afrika se internasionale beeld geskaad."
Malema, wat Donderdag 'n eksamen in Limpopo afgelê het, het 14 dae kans om teen die beslissing te appelleer.
Hanekom het gesê Malema het hom die afgelope twee jaar verskeie kere daaraan skuldig gemaak dat hy verdeeldheid saai in die ANC.
Malema is verlede jaar skuldig bevind op aanklag dat hy pres. Jacob Zuma in die openbaar gekritiseer het.
Die nasionale tugkomitee het toe gesê indien hy homself binne die volgende twee jaar skuldig maak aan 'n soortgelyke oortreding, sal hy uit die party geskors word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA