Malema-klerereeks in China vervaardig
2011-12-28 14:00
Johannesburg - 'n Klerereeks wat deur die geskorste ANC-jeugleier Julius Malema geïnspireer is, sal na verwagting in Februarie bekendgestel word.
Dit sal in China vervaardig word.
Die Pretoriase ontwerper Obakeng Ramabodu wou aanvanklik sy reeks by die ANC se eeufeesvieringe op 8 Januarie in Mangaung onthul, het die Sowetan berig.
Maar hy het toe besluit om dit eerder in Februarie in Johannesburg bekend te stel, omdat hy nie oneerbiedig teenoor die ANC wil wees nie.
"Ek het meer as 850 bestellings vir berette en T-hemde op my Facebook-blad," het hy vanuit China gesê.
"Binne twee weke sal ek na Suid-Afrika vlieg met meer as 6 000 T-hemde, keppe en berette met die Juju-kenteken op."
Ramabodu het gesê hy kon nie 'n plaaslike maatskappy vind om die klere te vervaardig nie.
"Suid-Afrika beskik nie oor die masjinerie om hoë-kwaliteit klere te maak soos China nie," het hy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA