Malema kla oor lek van inligting
2011-11-01 23:03
Johannesburg – Julius Malema, leier van die ANC-Jeugliga, voel sy menseregte word ondermyn deur inligting van die polisie wat gelek word, het die SABC Dinsdag berig.
Die uitsaaier het berig Malema oorweeg dit om die Openbare Beskermer en die Menseregtekommissie oor die kwessie te nader.
Malema het in ‘n onderhoud gesê hy is bekommerd oor wat hy as die aanhoudende lek van inligting deur ‘n onbekende bron binne die Valke-eenheid bestempel.
“Daar kan nie lekkasies wees in ‘n instelling soos die Valke nie. Dit beteken mense wat daar werk is nie lojaal aan die interne prosesse nie,” het Malema gesê.
“Die Valke moet self besorg wees oor waarom ‘n individu só sal optree. Hulle moet hulself ondersoek, want daardie individu ondermyn ondersoeke en die integriteit van die instelling self.”
Verskeie nuusberigte het daarop gedui dat Malema deur die Valke aangekla gaan word sodra hy terugkeer van ‘n vriend se swierige troue in Mauritius.
Die Sunday Independent het eerste berig dat die Valke prima facie-bewyse van korrupsie teen Malema het. Dit hou verband met die toeken van tenders aan maatskappye waarin Malema belange het.
Luidens die berigte sal Malema in hegtenis geneem word en in ‘n hof moet antwoord op bewerings van bedrog, korrupsie en geldwassery.
Malema het gesê hy is bereid om saam te werk.
Floyd Shivambu, ANCYL-woordvoerder, het Maandag in ‘n verklaring gesê daar was nog nooit enige kommunikasie tussen Malema en die Valke nie.
“Die gesiglose bronne wat in die koerante aangehaal word, versprei sensasionalistiese gerugte,” het Shivambu gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA