Malema kap Nedbank weer
2009-10-09 20:47
Midrand - Nedbank, een van Suid-Afrika se grootste banke is Vrydag deur Julius Malema, die leier van die ANC-jeugliga (ANCYL) aangeval weens hulle swart ekonomiese bemagtigingstrategie.
"Nedbank het ‘n swart vrou as die finansiële hoof aangestel, maar hulle het gelyke tyd ‘n nuwe posisie vir ‘n hoof bedryfsbestuurder geskep wat haar mag weer weggeneem het,” het hy gedurende die konferensie van die Forum vir Swart Bemagtiging in Midrand gesê.
Malema het verwys na die aanstelling van Raisibe Morathi as finansiële hoof, asook die aanstelling van
Graham Dempster as hoof bedryfsbestuurder wat bo Morathi aangestel is.
Nedbank is ook by Malema in die moeilikheid omdat hulle slegs junior swart bestuur gestuur het om met hom te vergader.
"Hulle het gesê ‘ons vergader met die jeugliga so dit moet ‘n swart-tot-swart-vergadering wees’,” het hy gesê.
“Ons het vir hulle gesê ons weier om met die vergadering voort te gaan as hulle nie vir Dempster afdank nie,” het Malema gesê.
Die jeugliga en Nedbank het nog nie vergader nie.
“Ons (ANCYL) het geen vendetta teen die bank nie, maar ons kan ons rekeninge met hulle sluit,” het hy gesê en sy woorde is met ‘n gelag gegroet.
Hy het weereens verwys na Nedbank wat hulle as borg van Atletiek Suid-Afrika (ASA) ontrek het. Die bank het ontken dat die Caster Semenya-sage die rede daarvoor was.
Malema beskou Nedbank se optrede as absurd.
- Sapa