Malema kan eendag president word, sê rektor
2010-03-10 06:54
Alicestine October
Kaapstad-Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, het gister weer ’n klop op die skouer van die rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV) gekry.
Prof. Jonathan Jansen het tydens ’n ontbytpraatjie oor diversiteit en leierskap hier gesê Malema is nie noodwendig die nar wat die media hom uitmaak om te wees nie.
Malema het vroeër te midde van die Reitz 4-nadraai ’n protesoptog teen Jansen by die UV gelei.
“Dit is ’n fout om Malema bloot as ’n openbare nar te sien. Ek het hom ervaar as iemand met ’n diep begrip vir die kompleksiteite en uitdagings by universiteite. Hy is ’n bewese politikus, anders sou hy nie vandag wees waar hy is nie. Moenie verras wees as hy eendag president word nie.”
Hy het voorts gesê dr. Albert Luthuli, voormalige ANC-leier en Nobelpryswenner, draai in sy graf om as hy vandag die stand van die politieke leierskap in die regering moes gadeslaan.
Jansen het reageer op ’n vraag oor die volwassenheid van die politieke leierskorps in Suid-Afrika.
Volgens hom was die politieke diskoers onder leiers nie eers onder apartheid so negatief en aanvallend as vandag nie.
Jansen het onlangs by ’n ander geleentheid gesê hy het nie meer vertroue in die regering nie en daar is ’n gebrek aan morele leierskap. Jansen het gesê na aanleiding van die Reitz 4-saak het hy besef wat nodig is, is leierskap wat studente se vrese en angs verstaan.
“ ’n Soort emosionele leierskap wat die emosionele infrastruktuur verstaan, is (vandag) nodig.”
Jansen het ook gesê daar kan nie gelei word deur kant te kies nie.
“Daar is ’n verskriklike wraaksug in ons politiekery en beleidmaking vandag, waarin daar heeltyd vir die een of ander gekies moet word,” het hy gesê. “Die beste manier om mense te oorreed, is om sélf ’n voorbeeld te stel.”
Jansen het Malema in November ook in die openbaar die lof toegeswaai. Malema het op sy beurt ’n maand vroeër onverwags sy steun aan die rektor toegesê.
“Hy is ’n bewese politikus, anders sou hy nie vandag wees waar hy is nie. Moenie verras wees as hy eendag president word nie.”
- Die Burger