Malema jaag met blou lig
2009-11-05 07:20
Marietie Louw-Carstens
Polokwane – Die bestuurder van Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, het ’n blou lig uitgepluk toe verkeersbeamptes wys hy moet van die pad trek.
Hulle het 107km/h in ’n 60km/h-sone buite die stad gery.
Beeld het by ’n ingeligte bron verneem Malema en sy bestuurder was op 14 Oktober in ’n silwer Range Rover.
Malema was dié dag op sy tuisdorp, Seshego, om ’n huis aan behoeftiges te oorhandig. Hy en sy bestuurder was omstreeks 10:00 op pad terug van Seshego in die rigting van Polokwane toe ’n span van nege verkeersbeamptes hulle afgetrek het.
Volgens Beeld se bron het die bestuurder in die middel van die pad stilgehou, die ligte geflits en toe ’n blou lig op die dak gesit. City Press het Sondag berig Malema het onder meer Pinky Kekana, Limpopo se LUR vir paaie en vervoer, gebel nadat hy afgetrek is.
Malema het glo aan die verkeersbeamptes gesê: “Wie dink julle is julle? Weet julle nie dat ek Julius, president van die jeugliga, is nie?”
Een van die verkeersbeamptes, wat uit vrees vir vervolging nie sy naam genoem wil hê nie, het gister gesê: “Die voorval het beslis gebeur.”
Dit kom nadat Ntau Letebele, hoof van die departement van paaie en vervoer in Limpopo, dit ontken het.
“Dit het nooit gebeur nie, so waarom sal ’n mens dan ’n tugondersoek wil instel?” het hy Maandag aan Beeld gesê.
Beeld het gister die brief gesien wat M.R. Makhubela, waarnemende stasiebevelvoerder van Polokwane se provinsiale verkeerskantoor, die dag van die voorval aan die verkeersbeamptes gestuur het. Die onderwerp van die brief is: “Voorval wat vandag (14 Okt.) in Seshego gebeur het.”
Dit lui verder: “Beamptes soos hierbo aangedui, het spoed(wetstoepassing) gedoen by Seshego en iets het op dié oomblik rakende die ANC-jeugliga-president gebeur.”
Al nege verkeersbeamptes se identiteit is aan Beeld bekend.
Makhubela het die beamptes in die brief, wat deur hom onderteken is, beveel om voor 14:00 skriftelike verklarings in te handig. Makhubela het gister ontken hy het die brief gestuur.
“Ons het prosedures wat vertroulik is. Ons is nie veronderstel om enige inligting aan die koerante bekend te maak nie.” Volgens hom ondersoek die verkeersdepartement die voorval.
Jeremy Cronin, adjunkminister van vervoer, het eergister in die parlement gesê niemand is bo die wet verhewe nie. Die saak sal ondersoek word.
Malema het gister nie een van sy twee selfone geantwoord nie en nie op Beeld se boodskappe gereageer nie.
Supt. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het gesê volgens wetgewing mag slegs polisie- en verkeersvoertuie blou ligte gebruik. Dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS), het gesê wanneer ’n baie belangrike persoon (BBP) vervoer word, sal die polisie se BBP-beskermingsvoertuie blou ligte hê, maar nie die motor waarin die BBP is nie.
Malema se bestuurder was volgens Beeld se bron nie ’n polisielid nie en die motor was nie in ’n konvooi nie.
- Beeld