Malema is onversetlik oor lied
2011-01-27 08:10
Kaapstad - Veterane van Suid-Afrika se vryheidstryd en alle aktiviste moet hul stem dik maak teen pogings om vryheidsliedere te verbied.
Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, het Woensdag herhaal dat hy bereid is om tot in die hoogste hof te veg vir die behoud van die openbare sing van sulke liedere, soos “Dubul’ ibhunu” (“Skiet die Boer”).
Hy sal ook seker maak dat elke stukkie wetgewing hiervoor ingespan word.
In ’n onderhoud op SAfm het Malema gesê vryheidsliedere is deel van die land se geskiedenis.
Volgens hom het mense wat daarteen aanstoot neem bloot ’n gebrek aan politieke opvoeding.
“Daai lied verteenwoordig wie ek is. Dit verteenwoordig my erfenis, my politieke kulture. Daai lied vertel die storie van die geskiedenis van die stryd in Suid-Afrika.
“Ek sal nie daarmee saamstem dat my reg ontneem word om die geskiedenis van Suid-Afrika te vertel deur liedjies nie.
“‘Ibhunu’ in ons liedjies het nooit na Afrikaners of ’n wit persoon verwys nie. Afrikaners in die ANC sing selfs vandag nog die liedjie. Juis omdat hulle verstaan het ‘Ibhunu’ verwys nie na ’n individu nie, maar eerder na ’n stelsel van onderdrukking.”
Malema en die burgerregte-organisasie AfriForum stamp nou al ’n hele ruk koppe oor die sing van die lied. Die hof het verlede week beslis Malema moet tussen R75000 en R100000 opdok vir AfriFroum se regskoste ná verskeie hofsake hieroor.
Die saak spruit voort uit ’n klag van haatspraak deur AfriForum teen Malema nadat hy die lied in Maart by ’n studentebyeenkoms gesing het.
Malema het gesê liedere, toneelopvoerings en rolprente moet praat oor die ware refleksie van wat mense moes deurmaak.
“As jy dié lied deur die howe verbied, sal dit beteken dat John Kani (die akteur) dit nie in opvoerings mag sing nie. Want anders sal hy in hegtenis geneem word.”
Malema het gesê sulke liedere word vandag nog gesing omdat Suid-Afrika nog ’n rasverdeelde nasie is in terme van ongelykhede met ekonomiese ontwikkeling.
Op ’n vraag van ’n luisteraar oor die uittog van skaars vaardighede in Suid-Afrika, het hy gesê: “Dit is hulle land. Wittes moet nooit bang wees vir demokratiese debat nie. Hulle was hier en het toegekyk hoe ons mense vermoor word deur die apartheidsregering. Toe het hulle nie weggehardloop nie.
“Nou opper ons bloot ’n demokratiese debat. Hoekom wil hulle nóú weghardloop?”
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger