Malema in nuwe debakel rondom gratis kospakkies
2009-12-04 09:07
Rajaa Azzakani
Kaapstad - Die ANC-jeugliga, wat Dinsdag kospakkies van die staat in Philippi help uitdeel het, gee nou voor dat hy ’n nie-regeringsorganisasie (NRO) is en dus geregtig was om dit te doen.
Julius Malema, jeugliga-president, het by die oorhandiging op Wêreld-vigsdag aan die skare gesê: “Ons het vir julle kospakkies gebring.”
Hy het ook onderneem dat die jeugliga R100 000 van sy eie geld aan die Sinethemba-tehuis vir weeskinders gaan skenk.
Gister is egter berig die kospakkies was nie ’n geskenk van die ANC-jeugliga nie, maar is deur die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) verskaf.
Waldi Terreblanche, uitvoerende streeksbestuurder van Sassa, het selfs op ’n foto saam met Malema verskyn.
Floyd Shivambu, jeugliga-woordvoerder, het by navraag gesê dit was ’n “gesamentlike operasie”.
“Ons is nie deel van die regering nie en kan maar met Sassa saamwerk,” het hy gesê in reaksie op opposisiepartye se kritiek dat Malema as die ANC se jeugleier die kospakkies namens Sassa uitgedeel het.
“Ons doen politieke werk, maar tegnies gesproke is ons ’n NRO – ’n geregistreerde NRO.”
Volgens Shivambu het die jeugliga sy plan vir maatskaplike verantwoordelikheid aan Sassa voorgelê, wat toegestem het tot hulp.
Paseka Letsasi, woordvoerder van Sassa en ’n uitvoerende lid van die jeugliga, het gesê hulle is deur dié “burgerlike samelewingsbeweging” genader oor ’n behoefte in dié gemeenskap.
“Dit het voldoen aan ons vereistes en kospakkies is gereël. Sassa het self die kospakkies uitgedeel.”
Toe hy gekonfronteer is met koerantfoto’s wat wys hoe Malema kospakkies aan mense oorhandig, het hy gesê: “Malema het bloot gehelp om die pakkies op te lig.”
- Die Burger