Malema hoor gou sy lot
2011-11-09 11:13
Johannesburg – Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, sal Donderdag die uitkoms van sy dissiplinêre verhoor weet, het The Star Woensdag berig.
Volgens die koerant is Malema en sy medebeskuldigdes per SMS is kennis gestel dat hulle Donderdag vir die uitspraak by Luthuli-huis in Johannesburg moet wees.
Adv. Patric Mtshaulana SC, Malema se regsverteenwoordiger, het dít aan The Star bevestig.
Slotbetoë is Sondagaand afgehandel.
Adj.pres. Kgalema Motlanthe het Dinsdagaand gesê die ANC skors tradisioneel slegs lede wat volgens dié party nie meer gerehabiliteer kan word nie
“Die benadering van die ANC is dat slegs dié wat nie kan verbeter nie, verlaat word,” het hy aan die parlement se Persgaleryvereniging gesê.
“Die party het die vertroue dat hy sy lede kan regstel. Binne die ANC is die filosofie dat mense altyd reggestel kan word deur hul swak punte te ondermyn en hul sterk punte te ondersteun,” het hy gesê.
Malema en Floyd Shivambu, word onder meer daarvan aangekla dat hulle onenigheid in die party saai en dat hul uitlatings oor ’n regimeverandering in Botswana die ANC in oneer gebring het.
Malema het later om verskoning gevra.
Ronald Lamola, Sindiso Magaqa, Kenetswe Mosenogi en Pule Mabe is ook aangekla.
Malema kan onmiddellik uit die party geskors word weens ’n opgeskorte straf wat hy hom verlede jaar ná ’n soortgelyke tugproses op die hals gehaal het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA