Malema het g'n verskoning, sê ANC
2011-09-02 11:50
Johannesburg – Die Nasionale Dissiplinêre Komitee (NDK) van die ANC het beslis dat die aanklagte teen die president van die ANC-jeugliga, Julius Malema, nié teruggetrek sal word nie, het ‘n verklaring wat Vrydag uitgereik is gelui.
“Die NDK het Julius Malema se aansoek om die klagtes teen hom terug te trek van die hand gewys,” het die voorsitter van die NDK, Derek Hanekom, gesê.
Malema het Dinsdag aansoek gedoen dat die dissiplinêre klagtes wat teen hom gebring is, geskrap moet word.
Die aansoek is Woensdag en Donderdag deur die NDK oorweeg.
“Die NDK het besluit om die volledige beslissing aan die media uit te reik tot die voordeel van sy lede, sy alliansie-vennote en die algemene publiek,” het hy gesê.
Argumente verwerp
Die dissiplinêre komitee het Malema se argument dat hy nie van sekere reëls bewus was nie, verwerp.
"As 'n leier en lid van die uitvoerende komitee van die ANC... was die respondent in die posisie om volle kennis van en inligting oor die beleid van die ANC te hê," het die verklaring gelui.
"Teen hierdie agtergrond en met spesifieke verwysing na die respondent bevind die NDK dat die respondent óf bewus was, óf bewus móés wees van die gedragskode in die ANC se konstitusie."
Vir Malema se argument dat die ANC se reëls onbillik is en verwarring veroorsaak, het die dissiplinêre komitee ook sterk woorde gehad.
"Die ANC is amper 'n honderd jaar oud en vir die grootste gedeelte van dié periode het ons 'n konstitusie en 'n gedragskode gehad. Deur die jare was daar geen klagtes van lede dat die gedragskode... onbillik is of verwarring veroorsaak nie," het die verklaring gelui.
"Om dié rede bevind die dissiplinêre komitee dat die argument dat die reëls onduidelik is en verwarring veroorsaak, geen meriete het nie".
Ondersteuners ontevrede
Ondersteuners van die jeugliga wat in die strate van Johannesburg saamgedrom het, het ná die aankondiging selfs harder gedreunsing.
Talle betogers het met plakkate rondgestap wat minagting vir president Zuma en ondersteuning vir Malema uitspreek.
Die verhoor word Maandag hervat.
– Sapa, Nuus24
– Volg Nuus24 op Twitter