Malema gekap oor verwysing na Indiërs
2011-10-20 10:11
Johannesburg – Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, is wéér in die sop nadat hy na Indiërs as "koelies" verwys het op 'n saamtrek in Thembelihle, suid van Johannesburg, berig Business Day.
"Bana ba lena ba tshwanetše ba dumelelwe gore ba tsene sekolo le bana ba makula mona (jou kinders moenie toegelaat word om skool te gaan saam met koelie-kinders nie)," het Malema volgens dié koerant gesê.
Meer as 600 inwoners het die saamtrek bygewoon. Optogte vir ekonomiese vryheid word later vandeesmaand in Johannesburg en Pretoria beplan.
Amichand Rajbansi, leier van die Minority Front, is hoogs verontwaardig oor Malema se stelling.
"Mnr. Malema skaad sosiale kohesie en harmonie tussen verskillende rasse."
Rajbansi het 'n beroep op die ANC gedoen om teen Malema op te tree.
Keith Khoza, woordvoerder van die ANC, het gesê die regerende party is nie bewus van die saak nie.
"Maar ons verwag van ANC-leierskap om verantwoordelik te wees in enige uitspraak... hulle hoef nie ander gemeenskappe te na te kom nie."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA