Malema gaan nie Bokke groet
2009-09-14 10:32
Johannesburg- Die man wat bekend is vir sy kontroversiële uitlatings, Julius Malema, sal nie die bokke op O.R. Tambo-lughawe verwelkom nie.
Die Springbokke sal vandag terugkeer na hulle sukses in die Drienasies-reeks.
Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANC-jeugliga, het aan Retha Grobbelaar van Beeld gesê Malema sal nie op die lughawe wees nie omdat hy by ’n vergadering van die ANC se nasionale werkkomitee moet wees.
Shivambu het bygevoeg dat ander lede van die jeugliga wel daar sal wees. “Daar sál Afrikane (Africans) wees,” het hy gesê.
Malema het onlangs by die terugkeer van Suid-Afrika se atlete ná die wêreldatletiekbyeenkoms in Berlyn te velde getrek omdat daar volgens hom nie witmense was om hulle terug te verwelkom nie.
“Waar is die wit Suid-Afrikaners om haar te verwelkom?” het Malema met verwysing na Caster Semenya, 800 m-wêreldkampioen, gesê.
“As dit rugby is, is hulle hier. Al wittes wat hier is, is joernaliste. Hoekom is ons nog verdeeld? Ons moet almal feesvier,” het hy gesê.
– Sport24
* Word deel van Nuus24 se Facebook-gemeenskap. Kliek hier.