Malema erg emosioneel in Rosestad
2011-11-26 08:27
Bloemfontein – “Weg met Magashule, weg!” het die skare jong mense gedreunsang op ’n byeenkoms in Bloemfontein waar die ANC-jeugligaleier, Julius Malema, die Teboho Sikisi-gedenklesing aangebied het.
In sy toespraak het Malema al die ANC-presidente se lof besing behalwe dié van pres. Jacob Zuma.
Hy het ook geskree: “Viva president Kgalema Motlanthe... viva president Fikile Mbalula.”
In die lesing het Malema gesê Sikisi het nie soos die ander “ou mense” met die ANCJL meegeding nie.
In reaksie op die skare se dreunsang oor premier Ace Magashule, het Malema hulle gevra waarom is hulle bang vir een mens.
Die provinsiale sekretaris van die ANC, Sibongile Besani, het langs Malema gesit.
Dit is bekend dat Besani sy tande vir die voorsitterspos in die provinsie slyp – ’n amp wat in hierdie stadium deur Magashule beklee word.
“Waarom is julle bang vir een mens in die ANC wat vir ewig die leier wil wees?”
In ’n klaarblyklike verwysing na die afgedankte minister Sicelo Sicheka, het hy in ware Malema-styl uitgevaar oor korrupte politici “wat staatsgeld gebruik om vir vroue te gaan kuier” maar nie uit die ANC geskors word nie.
“Die persoon wat sulke gedrag stilswyend goedkeur, sê ook hy beveg korrupsie.”
Volgens Malema het vorige ANC-presidente nooit die ANCJL onderdruk oor verskille nie, maar ANJL-leiers toegelaat om hul menings op ANC-massavergaderings te lug.
Malema, wat by tye erg emosioneel was, het gesê hy weet nie wat hy sal doen as hy sy pos as jeugligaleier moet ontruim nie.
Hy sê as hy ’n beeswagter moet word, sal hy die wat saam met hom beeste oppas, van politiek leer.
“Ek staan by die besluite van die ANCJL en ek is spyt oor niks nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad