Malema en kie. se appèldokumente ingedien
2011-11-24 17:27
Johannesburg – Julius Malema, geskorste leier van die ANC-jeugliga, en ander jeugligaleiers het hul aansoek om appèl teen hul skorsings by Cyril Ramaphosa, voorsitter van die ANC se nasionale appèlkomitee, ingedien.
Na verneem word is dié dokumente Donderdagmiddag by Ramaphosa se kantoor ingedien.
Ramaphosa en sy paneel sal nou deur al die dokumente gaan voor daar op die pad vorentoe besluit word.
Malema, Floyd Shivambu, woordvoerder van ANCYL, Ronald Lamola, adjunkleier van die jeugliga, Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal, Kenetswe Mosenogi, adjunk-sekretaris-generaal, en Pule Mabe, tesourier-generaal, is skuldig bevind en twee weke gelede deur die ANC se nasionale tugkomitee (NTK) geskors.
Malema is vyf jaar geskors en beveel om sy pos as president van die jeugliga te ontruim en Shivambu is drie jaar geskors en ook gesê om sy pos te ontruim.
Die ander vier leiers vir elk twee jaar geskors. Die skorsing is opgeskort vir 'n tydperk van drie jaar.
Die jeugliga sal na verwagting aanvoer dat hy onafhanklik van die ANC is en dat die NTK op die liga se “ou” grondwet staat gemaak het toe die vonnisse opgelê is.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter