Malema eet by Survivor-man in tronk
2010-03-17 09:12
Johannesburg - Die voormalige deelnemer aan die realiteits-program Survivor SA, beter bekend as Jub Jub en sy medebeskuldigde, Themba Tshabalala sal na verwagting Woensdag in die Protea-landdroshof op vier aanklagte van moord verskyn.
Die hip hop-musikant, Molemo Maarohanye en Tshabalala staar vier aanklagte van moord in die gesig nadat hulle verlede week glo vier kinders gedurende ’n jaagtog doodgery en twee beseer het.
Met die beskuldigdes se eerste hofverskyning verlede Woensdag, het die staatsaanklaer, Liezl van Jaarsveld, aan die hof vertel dat hulle in ’n woonbuurt op ’n tweerigting-pad, met talle voetgangers in die nabyheid, gejaag het.
Sy het aangevoer dat hulle nog tyd nodig het om verklarings van die twee beseerde seuns en twee passasiers in die motors te neem.
Hulle wou ook nog verdere tegniese ondersoeke op die motors laat doen.
Ike Motloung, Maarohanye se regsverteenwoordiger het die uitstelling teengestaan, maar dit is deur die landdros, Brian Nemavhadi, toegestaan.
Maarohanye en Tshabalala staar vier aanklagte van moord en twee van poging tot moord, asook een elk van roekelose of nalatige bestuur en dronkbestuur in die gesig.
Julius Malema, die ANC-jeugleier, het glo Maandag vir Jub Jub in die tronk gaan kuier, berig die Star. Volgens hierdie koerant het Malema en sy gevolg aan Nando's saam met Jub Jub in 'n privaatkamer in die tronk gesmul.
Floyd Shivambu, die jeugliga se woordvoerder, het aan Sapa gesê hy weet niks van die besoek nie.
-Sapa