Malema doen aansoek om appèl
2010-04-08 10:35
Johannesburg – Die omstrede leier van die ANC-jeugliga (ANCYL), Julius Malema, het aansoek gedoen om appèl nadat die gelykheidshof hom skuldig bevind het aan haatspraak.
Dít kom nadat Malema aanmerkings gemaak het teenoor die vrou wat president Jacob Zuma van verkragting beskuldig het.
Tydens ‘n verkiesingsveldtog in Januarie verlede jaar het Malema gesê; “As ‘n vrou dit nie geniet het nie sou sy vroegoggend reeds geloop het. Daardie wat dit wel geniet sal bly vir ontbyt en selfs vra vir taxi-geld. Mens vra nie vir taxi-geld van iemand wat jou verkrag het nie.”
Hy het reageer op ‘n vraag oor Zuma se vermoëns om president te wees nadat regter Willem van der Merwe, Zuma vrygespreek het van verkragting in 2006.
Malema is verlede maand deur landdros Colleen Collis beveel om in die publiek om verskoning te vra vir sy uitlatings. Hy moet ook R50 000 betaal aan die organisasie, People Opposing Women Abuse.
Malema sal ook binnekort in Johannesburg in die gelykheidshof verskyn op ‘n tweede aanklag van haatspraak omdat hy die “Skiet die boere”-lied by verskeie byeenkomste gesing het.
- Sapa