Malema dalk in hegtenis geneem
2011-10-31 10:04
Johannesburg – Die Valke en die ANC-jeugliga het Maandag geswyg te midde berigte dat Julius Malema, president van die jeugliga, binnekort in hegtenis geneem gaan word.
"Nee, ek kan nie daarop kommentaar lewer nie," het kol. McIntosh Polela, woordvoerder van die Valke, gesê.
Floyd Shivambu, woordvoerder van die jeugliga, het gesê: "Geen kommentaar," voor hy die oproep beëindig het.
The Times het Maandag berig dat 'n gesamentlike ondersoek deur die Valke en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) na die jeugleier se finansies byna afgehandel is.
The Sunday Independent het die afgelope naweek berig dat daar afgekom is op bedrog tydens die ondersoek.
Malema se Ratanang Family Trust en maatskappye insluitend On-Point Engineering en SGL Engineering, is na bewering deel van die ondersoek.
Albei maatskappye is tenders in Limpopo toegeken.
– Volg Nuus24 op Twitter