Malema daag Valke uit
2011-10-31 12:05
Johannesburg – Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, het die Valke uitgedaag om hom aan te kla, berig die Daily Sun.
"Laat hulle kom! Ek is moeg daarvan om gedreig te word," het Malema aan die koerant gesê.
"Almal sit die Valke op my. Ek het nog nooit enigiets verkeerd gedoen nie en dalk is dit beter as die Valke my aankla sodat ek die bewerings voor 'n landdros kan verduidelik."
Malema het reageer op berigte dat hy dalk in hegtenis geneem kan word op aanklagte wat verband hou met sy finansiële sake.
Hy het gesê indien die Valke bewyse teen hom het, moet hulle hom vervolg.
"Indien die Valke my gaan aankla, is dit goed. Laat diegene wat bewyse het na vore kom," het Malema gesê.
"Die SMS'e waarvan hulle praat en die geld wat hulle sê in my rekening gedeponeer is, moet in die hof verduidelik word."
Die Valke wou nie Maandag kommentaar lewer oor die saak nie.
The Times het Maandag berig dat 'n gesamentlike ondersoek deur die Valke en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) na die jeugleier se finansies byna afgehandel is.
Volgens die berig is die ondersoek "so goed as afgehandel" en dis "net 'n kwessie van tyd" voor owerhede optree.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA