Malema bou glo huis in rykmansbuurt
2011-07-17 12:15
Kaapstad – Die Demokratiese Alliansie sal Maandag die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) vra om die geldsake van Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, te ondersoek, het Dianne Kohler Barnard, die party se woordvoerder oor polisie, gesê.
Kohler Barnard het gesê die party vra vir die ondersoek nadat dit aan die lig gekom het dat Malema 'n huis van R16 miljoen in die Johannesburgse rykmansbuurt Sandown bou.
"Ek sal 'n brief skryf en vra dat sy finansies ondersoek word. Die tyd het gekom. Dit is onmoontlik vir iemand wat 'n salaris van R25 000 verdien om 'n banklening van R16 miljoen te kry," het sy gesê.
"'n Ondersoek moet gedoen word om vas te stel waar die geld vandaan kom. As iemand vir hom geld gee, moet ons weet wie dit is."
Die Sunday Independent het berig dat Malema 'n huis op die erf in Sandown, wat hy in 2009 gekoop het, laat sloop het, en 'n nuwe moderne spoghuis bou.
Die ANC-jeugliga weier om kommentaar te lewer oor Malema se nuwe huis.
Die ANC het ook vroeër vanjaar gevra dat 'n ondersoek gedoen word ná dit aan die lig gekom het dat onwettige regeringstenders aan maatskappye, wat aan Malema verbind word, toegeken is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA