Malema binnekort eiendom, bates kwyt
2012-09-23 10:50
Johannesburg – Julius Malema, voormalige president van die ANC-jeugliga, skuld die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) R16 miljoen in onbetaalde belasting, het 'n berig Sondag gelui.
City Press berig dat Malema nie die SAID se saak, wat op 11 September in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor is, teenstaan nie.
Adrian Lackay, 'n woordvoerder vir die SAID, het bevestig dat Malema R16 miljoen aan die belastinggaarder skuld.
Hy het aan die koerant gesê die bedrag sluit onbetaalde belasting, boetes en rente in.
Lackay het gesê hy kan nie enige verdere inligting oor Malema se belastingsake gee nie want die "vertroulikheid van 'n belastingbetaler [se sake] is 'n wetlike vereiste vir die SAID".
City Press het ook berig dat die SAID gereed is om op bates van Malema in Gauteng en Limpopo beslag te lê.
Alan Lewis, 'n belastingkonsultant en advokaat, het aan die koerant gesê die SAID sal waarskynlik 'n balju nader om op Malema se eiendom en ander bates beslag te lê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA