Malema bevraagteken ANC se navorsing oor myne
2012-02-10 15:09
Kaapstad – Julius Malema, geskorste leier van die ANC-jeugliga (ANCYL), het die geloofwaardigheid van die regerende party se navorsing oor die nasionalisering van myne bevraagteken.
Malema het Vrydagoggend die liga se jaarlikse lekgotla in Irene, Pretoria, geopen.
Hy sê die myne-verslag is teen die vryheidsmanifes.
Provinsiale- en streeksleiers van die liga woon die vergadering by waartydens die agenda vir die volgende jaar vasgestel sal word.
Adj.pres. Kgalema Motlanthe en Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, sal later ook die jeug toespreek oor die verhouding tussen die moederliggaam en sy jeugliga, het RSG berig.
Intussen het pres. Jacob Zuma in Kaapstad gesê die nasionalisering van myne is nie ANC óf die regering se beleid nie.
“Nasionalisering is nie ons beleid nie. Dis so duidelik soos dit,” het hy by ‘n sakeontbyt in Kaapstad gesê.
Hy sê die ANCYL, onder die leierskap van Malema, het die kwessie genoem en dit sal by die ANC se beleidsvergadering bespreek word, het Sapa berig.
Hy sê net omdat een persoon 'n standpunt het, beteken nie dat dit beleid is nie.
Volg Nuus24 op Twitter