Malema-besluit kom 'mettertyd'
2012-01-24 18:54
Johannesburg – Die ANC se appèlkomitee het die leier van die ANC-Jeugliga, Julius Malema, se appèlverhoor Dinsdag afgehandel en ‘n besluit sal “mettertyd” aangekondig word.
“Die [Nasionale Dissiplinêre Komitee van Appèl (NDCA)] het vir twee dae vergader om te luister na voorleggings van beide die ANC en die ANC-Jeugliga,” het Cyril Ramaphosa, voorsitter van die NDCA, in ‘n verklaring gesê.
“Nadat die NDCA nou albei kante aangehoor het, sal ‘n besluit op sy tyd geneem word.”
‘n Sluier van geheimhouding is vroeër oor die verhoor getrek, met partywoordvoerders wat gesê het hulle is aangesê om nie kommentaar te lewer nie.
“Die media is uitgehou en ons weet niks daarvan nie. Die media kan dalk inligting kry wanneer die verhoor afgehandel is,” het Keith Khoza, woordvoerder, Maandag gesê.
Ramaphosa het argumente by die verhoor aangehoor. Malema se regsverteenwoordigers het verlede week hoofde van betoog ingedien.
Adv. Patrick Mtshaulana het toe gesê dié hoofde van betoog bespreek in detail waarom Malema se skorsing van vyf jaar gelig moet word.
Malema en ander ANCYL-leiers is in November geskors nadat hulle daaraan skuldig bevind is dat hulle verdeling in die ANC gesaai en die party in oneer gebring het.
Volgens Mtshaulana sal hulle Ramaphosa wil oortuig dat hulle nie genoegsaam kans gegun is om vir die verligting van hul vonnisse te argumenteer nie.
Hulle sal ook argumenteer dat lede van die dissiplinêre komitee, insluitende die voorsitter, Derek Hanekom, en die minister van minerale hulpbronne, Susan Shabangu, nie op die komitee moes gewees het nie. Die ANCYL sê dit omdat dié lede vroeër in die openbaar gesê het hulle stem nie saam met die ANCYL se beleid oor grondhervorming en die nasionalisering van myne nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA