Malema aangekla oor verwysing na Indiërs
2011-11-07 11:05
Johannesburg – Aanklagte van crimen injuria is teen Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, aanhangig gemaak nadat hy na Indiërs as "koelies" verwys het, het die polisie Maandag gesê.
Lt. Joey Jeevan het gesê lede van die SA Minority Rights Equality Movement (Samrem), ’n organisasie wat hom vir die regte van minderheidsgroepe beywer, het Vrydag 'n klag by die Mountain Rise-polisiekantoor in Pietermaritzburg ingedien.
Die klaers was Soobramoney Narrian, Bob Narainsamy, Ashen Singh, Ashok Singh en Jaiheen Singh.
Jeevan het gesê die saak sal Maandag vir verdere ondersoek na die Lenasia-Suid-polisiekantoor in Gauteng gestuur word omdat die voorval op 'n saamtrek in Johannesburg plaasgevind het.
"Bana ba lena ba tshwanetše ba dumelelwe gore ba tsene sekolo le bana ba makula mona (jou kinders moenie toegelaat word om skool te gaan saam met koelie-kinders nie)," het Malema op 'n saamtrek vir ekonomiese vryheid gesê.
Malema het later gesê hy het nie bedoel om aanstoot te gee nie. Hy het ook gesê hy sal nie weer die woord "makula" gebruik om na Suid-Afrikaners van Indiese oorsprong te verwys nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA