Malema aan gatkant van sokker-weddenskap
2012-05-24 08:45
Johannesburg – ‘n Sokkeraanhanger het ‘n tatoeëermerk van Julius Malema op sy boud gekry nadat hy ‘n weddenskap verloor het, het die Herald Online berig.
Die weddenskap het gehandel oor wie die eindstryd in die Kampioenliga sou wen.
Mark Dorward, ‘n Bayern Munich-aanhanger van Port Elizabeth, het nie gedink sy span sou hom verlede Saterdag in die steek laat nie.
Toe die Duitsers in die spanningsvolle valbylstryd verloor, was sy weddenskap ook daarmee heen.
Sy vriend Tom Pullen, ‘n eienaar van ‘n restaurant, wat ‘n Chelsea-ondersteuner is, het met blydskap toegekyk toe Dorward die tatoeëermerk ná die wedstryd in die restaurant kry.
“Julle weet hoe hierdie dinge werk. Ons het gesit; dit was seker omtrent 01:00 by die kroeg en ons het brandewyn gedrink,” het Dorward gesê.
“... Tom is ‘n Chelsea-ondersteuner en ek’s vir enigiemand behalwe Chelsea. Ons het ‘n weddenskap aangegaan dat wie ook al die verkeerde span ondersteun, moet ‘n tatoeëermerk op sy boud kry.”
Die beeld van Malema se gesig is vanaf ‘n Zapiro-spotprent geneem. Die spotprentkunstenaar het ook aan die pret deelgeneem deur aanhangers op sy webtuiste te vra watter Malema-gesig gebruik moet word.
Doward het dadelik nadat sy span verloor het, na ‘n tatoeëer-hokkie – wat tydelik in die restaurant opgestel is – gegaan om die tatoeëermerk te kry.
“Die res, soos hulle sê, is geskiedenis.”
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA