Malema: Zille is 'n kakkerlak
2010-10-30 14:45
Stellenbosch – Die leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema, het Saterdag in Stellenbosch aan ondersteuners gesê Helen Zille, Wes-Kaapse premier, is 'n kakkerlak wat uitgestem moet word.
"Ons het geen respek vir Helen Zille nie. Hoekom word ons gevra om 'n persoon te respekteer wat oop toilette bou? Helen Zille is 'n verteenwoordiger van apartheid," het Malema aan die skare van sowat 3000 mense in Cloetesville buite Stellenbosch gesê.
"As Zille haar sin kry, sal sy die Wes-Kaap 'n onafhanklike republiek verklaar. Jy kan nie 'n kakkerlak in die kabinet sit nie en ons moet daardie kakkerlak verwyder deur die ANC in beheer te sit."
Malema was op die verhoog gevolg deur pres. Jacob Zuma wat gesê het die ANC bly vasberade om 'n mediatribunaal in te stel.
Zuma het gesê die regerende party sal nie toelaat dat die media die regte van die arm mense ondermyn nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA