Malema: Jong wittes moet betrokke raak
2011-04-09 11:47
Johannesburg – Wit jongmense moet meer betrokke raak by die sosiale en politieke lewe in Suid-Afrika, meen Julius Malema.
Die ANC-jeugleier het dié beroep Vrydag tydens ‘n toespraak voor die unie vir jong Joodse studente, SAUJS, in Kaapstad gedoen.
“Ons vra die wit jeug om die grondwet te koester en aktief betrokke te raak by die politieke en sosiale lewe van die land,” het Malema gesê.
Hy het verder gesê “baie min” wit jongmense neem deel aan aktiwiteite om nasionale vakansiedae soos Vryheidsdag, Menseregtedag en Jeugdag te herdenk, “ten spyte van die feit dat die aktiwiteite oop is vir almal om aan deel te neem.”
Malema het die skare gevra om by die ANC en sy jeugliga aan te sluit en “by te dra tot die bou van die party en die land.”
“Net die ANC bied ‘n regverdige en billike spasie, en ‘n geleentheid, om by te dra tot die ontwikkeling van die land.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA