Malema - 'Iemand moet opstaan'
2009-09-23 08:42
Daniella du Plooy
Dis ’n hartseer land waar burgers vir politici moet bang wees.
So sê die polisiereservis wat beweer Julius Malema het hom Sondagoggend tydens ’n partytjie by die ANC-jeugligaleier se huis in Sandown, Sandton, aangerand.
Volgens die reservis, wat ten tyde van die voorval van diens was en vir eers nie sy naam genoem wil hê nie, het Malema die moeilikheid begin.
“Die ongelukkigheid (oor Malema se raserige partytjie) was eintlik al uitgesorteer toe hy uit die huis kom en dinge begin kwytraak het.”
Volgens die reservis het Malema onder meer vir hom gesê: “Weet jy wie ek is? Weet jy wat ek kan doen? Wie de f** is jy?” Daarna het die jeugligaleier hom glo verskeie kere geklap.
Die reservis het gister gereageer nadat Malema eergister ontken het die voorval het ooit plaasgevind. Malema het gesê hy het nie die man geklap nie en homself onder meer ook as ’n “polisiereservis” beskryf.
“Ek het misdaad beveg en was ’n aktivis vir reg en geregtigheid,” het Malema gesê. “Dit is vreemd dat die man nie sy identiteit wil bekend maak nie. Hy is waarskynlik nie ’n regte polisieman nie. Dalk is hy sommer nog deur Helen Zille geplant!”
Die reservis het gister aan Beeld gesê hy het in “burgerlike hoedanigheid” by die partytjie opgedaag.
“Ek het net ná 03:00 geloop om hulle te gaan stilmaak, want die partytjie was rumoerig. Ek het nie geweet dit is Malema se partytjie nie.”
Volgens die man het hy ’n Coin-veiligheidswag gevra om hom te help om die musiek sagter te maak.
“Die wag was baie behulpsaam en het dit gedoen. Daarna het Malema egter uitgekom en skoorgesoek. Ná die vloekery het hy my ook geklap en probeer om my polisieradio en selfoon te vat.”
Die reservis het klagte van aanranding, intimidasie en poging tot diefstal by die polisie ingedien.
“As die saak in die hof draai, sal my identiteit bekend maak en getuig,” het die man gesê.
“Ek ís ’n bietjie bang, want ek wéét hy het baie mag, maar iemand moet bereid wees om op te staan teen hierdie ou.
“Hy is nie verhewe bo die reg nie, al dink hy blykbaar so.”
Supt. Eugene Opperman, polisiewoordvoerder, het gister bevestig die man het die saak by die Bramley-polisiekantoor aangemeld. “Dit sal ondersoek word, waarna die senior staatsaanklaer sal besluit of Malema vervolg gaan word.”
- Beeld