Malema: Ek leef in armoede
2010-03-04 07:10
Marietie Louw-Carstens
Seshego - Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, het Woensdag sy 29ste verjaardag met duur Franse sjampanje gevier terwyl duisende bejaardes wat die dag bygewoon het met appels, piesangs en water tevrede moes wees.
“Ek leef steeds in armoede vandag, want solank as wat ’n buurman van my swaarkry, kry ek ook swaar,” het Malema aan die skare gesê kort voordat hy die prop van ’n bottel Moët et Chandon Rosé afgeskiet het.
Lofsangers het vir Malema, wat in Seshego buite Polokwane (Pietersburg) grootgeword het, gebid en hom die hande opgelê. “Ons bid jy word ons volgende president van die land,” het die lofsangers onder toejuiging van die sowat 2 000 bejaardes gesê.
Die mense het staande hul hande uitgestrek terwyl Malema met ’n geboë hoof op ’n stoel op die verhoog gesit het.
Malema het komberse en selfone aan van die bejaardes gegee wat op die verhoog saam met hom gedans het. Talle mense het na die verhoog gestroom in die hoop om ook komberse en selfone te kry, maar moes teleurgesteld omdraai. Die bejaardes het appels, piesangs en water gekry.
Die bejaardes is in busse aangery en moes sowat drie uur in die bloedige son wag voordat Malema om 12:00 opgedaag het. Uitgesoekte gaste het in ’n markiestent aan biltong en verjaardagkoek in die ANC-kleure gesmul.
Malema, wat die afgelope twee weke in die nuus was omdat hy glo sowat R140 miljoen se tenders van munisipaliteite in Limpopo ontvang het, het gesê hy het “in armoede grootgeword”.
“Ek het nie deel van die struggle geword om my self te verryk nie. Ek moet die lewens van my mense verander en niemand sal my keer nie.”
Malema het merendeels Sepedi gepraat en aan die skare gesê hy “is ’n produk van ’n arm familie. Ek sal altyd die armes respekteer”.
Cassel Mathale, premier van Limpopo en ’n groot vriend van Malema, het onder luide toejuiging die mediaberigte, veral in Die Burger se susterkoerant City Press, oor Malema as leuens afgemaak en gesê hy verstaan nie hoekom joernaliste leuens skryf nie.
“Piet Rampedi (die joernalis wat die berigte geskryf het), wat is jou agenda?” het Mathale gevra. Hy het ook gesê “daar is niks onwettigs as Malema sakebelange het nie”.
Mathale het na Malema verwys as “ons toekomstige president van die republiek”.
Malema se ouma, Sara Malema (80), het saam met haar kleinseun verjaardag gehou.
Slagspreuke soos “Hands off Julius Malema, hands off!”, “Viva Julius Vuvuzela Malema viva!” en “Julius Blockbuster Malema” het kort-kort opgeklink.
- Die Burger