Malema: 'Dra vaardighede oor'
2009-10-10 06:29
Johannesburg. – Moenie die land verlaat voordat julle jul vaardighede oorgedra het nie, het ’n veglustige Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, gister by wit mense gepleit.
Hy was ’n spreker by die kongres van die Black Management Forum in Midrand.
“Dis nie ’n strategie vir ons om wit mense in die see te dryf nie. Hulle het vaardighede. Ons moet in vrede woon. Hulle moet ons toelaat om gelyke vennote te wees.
“Solank as wat ons nie van wit uitsluiting praat nie, beteken dit ons wil dit nie hê nie. As ons dit wou hê, sal ons dit sonder apologie sê,” het Malema gesê.
Hy het ook skerp uitgevaar oor grondhervorming.
“Ons het saamgestem met (die beleid van) vrywillige koper, vrywillige verkoper. Ons kan nie die land koop nie omdat julle dit gesteel het,” het hy gesê terwyl kongresgangers hande geklap het.
“As ’n persoon jou kar steel en jy kry dit in Soweto en die persoon het duur leer ingesit... Die persoon wil nou vanweë die verbetering hê jy moet dit koop.
“Solank ons nie grond het nie, beteken die ekonomie niks nie. Ons het nie baklei om die name van strate te verander nie, maar om die ekonomie te beheer.”
Malema het gesê die verhoor van Jackie Selebi, voormalige polisiehoof, gaan daaroor om te bewys “dat ons van alkohol, maklike geld en vroue hou en hoegenaamd geen vaardighede” het nie.
- Die Burger