Malema: 'Die handskoene is af'
2011-11-10 13:36
Johannesburg – Julius Malema, voormalige president van die ANC-jeugliga, het gesê hy gaan teen sy skorsing as ANC-lid appelleer, het die eNews-kanaal Donderdag berig.
Volgens die kanaal het Malema dié boodskap aan ondersteuners gegee nadat hy 'n eksamen in Limpopo afgelê het.
Malema het gesê die handskoene is af en dat dit tyd is om die vyand te konfronteer en te beveg.
Selfs al is hy nie die president van die jeugliga nie, moet die massas steeds die goeie stryd stry, het Malema gesê.
Malema is tot effektief vyf jaar geskors.
Hy is skuldig bevind op die eerste aanklag dat hy verdeeldheid saai in die party nadat hy gesê het die Afrika-unie (AU) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) is van koers af sedert oudpres. Thabo Mbeki nie meer staatshoof is nie. Hy is ook skuldig bevind op aanklag dat hy die ANC in oneer bring oor sy uitlatings oor Botswana. Malema is egter onskuldig bevind op aanklag van rassisme oor uitlatings wat hy in Mei op 'n saamtrek gemaak het.
Derek Hanekom, voorsitter van die ANC se nasionale tugkomitee, het Donderdag gesê die "respondent sal sy pos as president van die ANC-jeugliga ontruim".
Malema was nie in Johannesburg nie, omdat hy 'n eksamen by die Polokwane-kampus van Unisa afgelê het.
Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANCYL, is ook beveel om sy pos te ontruim. Hy was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA