Malema: 10 dae voordat ANC sê
2012-01-15 10:00
Kaapstad – Julius Malema se naam sal uit die ANC se lede-databasis verwyder word as sy appèl teen sy skorsing van vyf jaar uit die regerende party binne die volgende tien dae misluk.
Dit kan sy politieke loopbaan sink.
Hy sal sy amp as leier van die ANC-jeugliga verbeur en sy kantoor in Luthuli-huis in die Johannesburgse middestad moet ontruim.
Laasgenoemde twee stappe is dadelik van krag.
Malema sal ook die posisie in die ANC in Limpopo se provinsiale uitvoerende komitee, waarvoor hy pas verkies is, verloor. Hy sal voorts nie in enige van die ANC se takke of strukture kan dien nie.
Dan sal hy ook vir vyf jaar nie ’n enkele woord van ’n openbare verhoog mag uiter in die naam van die ANC of sy jeugliga nie.
’n Ingeligte bron het aan Rapport gesê Malema sal steeds vir die ANC kan stem en byeenkomste as ’n waarnemer kan bywoon. “Ons vra tog nie mense se lidmaatskapkaarte by die hekke nie.” Hy sal ook in sy private hoedanigheid toesprake kan lewer.
“Maar hy sal nie namens die ANC uitsprake kan maak nie, en ons sal ook nie gelukkig wees as enige struktuur hom uitnooi nie.”
Ook sal hy die ANC se belangrike leiersverkiesing in Desember in Mangaung, waar die jeugliga hom sal beywer om pres. Jacob Zuma te ontsetel, misloop.
Dít is Malema se lot as die ANC se nasionale appèlkomitee, onder voorsitterskap van mnr. Cyril Ramaphosa, sy skorsing bekragtig.
Dieselfde geld Floyd Shivambu, Malema se regterhand en jeugliga-woordvoerder.
Malema se betoog vir sy appèlaansoek word môre ingedien en na verneem word, sal die appèlkomitee op 23 Januarie ’n finale besluit neem.
Malema se betoog berus grotendeels daarop dat die jeugliga nie die “basiese reg” gegun is om om versagtende omstandighede te pleit voordat die ANC se nasionale tugkomitee (NTK) besluit het om hom vir vyf jaar te skors nie.
Rapport het egter verneem die ANC se grondwet plaas geen verpligting op die NTK om argumente om versagtende omstandighede aan te hoor nie.
Die appèlkomitee moet egter bepaal of die NTK die regte prosedure gevolg en die “korrekte bevinding” gemaak het. Dit word betwyfel of die appèlkomitee Malema se skorsing tersyde sal stel. Daar is egter steeds ’n geringe kans dat sy straf versag kan word.
Malema het Dinsdagoggend in ’n onderhoud oor SAfm dit duidelik gemaak hy sal sy skorsing die heelpad tot by die nasionale konferensie in Bloemfontein beveg. Hy het gesê hy sal dit aanvaar as hy uit die ANC geskop word, maar eers nadat “ANC-strukture” daaroor besluit het.
Afgevaardigdes by dié konferensie in Desember het die mag om enige besluite te neem, en ’n resolusie om Malema se skorsing op te hef kan met ’n meerderheidstem aanvaar word.
Intussen kan Malema hom ook op die nasionale uitvoerende komitee (NUK) – die ANC se hoogste gesagsliggaam tussen konferensies – beroep om sy skorsing tersyde te stel.
Dit is egter te betwyfel of dié taktiek sal slaag omdat Malema nie oorweldigende steun onder die NUK se 81 lede geniet nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport