Malaria: 'Gebied kan uitbrei'
2012-02-04 10:13
Pretoria – Die ses malariagevalle onder Pretorianers wat nie malariagebiede besoek het nie, behoort ’n waarskuwing te wees oor die gevare van klimaatsverandering.
So het prof. Tiaan de Jager, hoof van gemeenskapsgesondheid aan die Universiteit van Pretoria, Vrydag gesê.
Volgens De Jager is daar elke jaar ’n paar gevalle waar mense malaria kry ná ’n byt deur ’n muskiet wat iemand van plekke soos Mosambiek gebring het.
Pretoria was sowat ’n eeu gelede nog deel van Suid-Afrika se malariagebied, maar danksy malariabeheer het die grens heelwat noord geskuif. Van die universiteit se studente het gehelp met die onlangse ondersoek na die ses gevalle in Soshanguve en Pretoriuspark in die ooste van Pretoria.
Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het onder meer staande water by ’n begraafplaas getoets om vas te stel of malariamuskiete (anopheles-spesie wat die malariaparasiet dra) dit reggekry het om in die omgewing te broei.
Die muskiete wat algemeen in Pretoria voorkom, is nie malariamuskiete nie.
Die Nios kon geen tekens kry dat hulle daar broei nie.
De Jager het gesê hy vind dit vreemd dat so baie gevalle in Pretoria in Desember voorgekom het. Hy meen Suid-Afrika sal weens klimaatsverandering vorentoe meer gereed moet wees om malariagevalle te hanteer in gebiede waar dit nie nou voorkom nie.
Die warmer weer en meer reën kan plekke soos Pretoria omskep in ’n gunstige broeiplek vir die malariamuskiet.
Luidens ’n artikel in die South African Medical Journal (Januarie 1996) het ’n 1938-kaart wat die risiko van malaria in Suid-Afrika aandui, gewys die risiko strek tot in Pretoria, al is dit beskou as laag. Landdroste in KwaZulu-Natal het geraam 22 132 mense is tussen November 1931 en Junie 1932 daar dood.
Die getal voorvalle het sedertdien skerp afgeneem en risiko-areas het heelwat teruggekrimp danksy malariabeheer, onder meer deur DDT te spuit.
Volgens die Nios moet enigeen wat onverklaarbare koors en simptome het wat dui op malaria, vir die siekte laat toets.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld