'Mal' Dirk dreig vyande in SA
2009-08-30 14:30
Erna van Wyk
Johannesburg - Die beweerde seks-misdadiger Dirk Prinsloo dreig sy “vyande” in Suid-Afrika vanuit sy tronksel in Belo-Rusland.
“Daar wag nog baie verrassings vir my vyande in Suid-Afrika . . . hulle gaan my gouer sien as wat hulle dink,” skryf Prinsloo in briewe aan Tatiana, die Belo-Russiese ma van Ksenia, die eenjarige dogtertjie wat hy verwek het nadat hy uit Suid-Afrika gevlug het terwyl hy op borgtog vry was.
Tatiana, wat nie haar van genoem wil hê nie, het die inhoud van Dirk se briewe aan haar aan Rapport onthul.
Prinsloo vertel dat hy hard oefen in sy sel in Baranowitsji om fiks en sterk te bly.
Hy “sien uit” na sy vervolging in Suid-Afrika en dat hy gou onskuldig bevind sal word op die seksklagte teen hom.
Prinsloo is in Junie vanjaar deur die Belo-Russiese polisie opgesluit ná ’n komiese poging om ’n bank met ’n speelgoedpistool te beroof. As hy skuldig bevind word, sal hy eers sy tronkstraf in Belo-Rusland moet uitdien voordat hy in Suid-Afrika verhoor kan word.
Hy word in Suid-Afrika beskuldig van onder meer verkragting, kindermolestering en die vervaardiging van kinderpornografie.
Cézanne Visser, sy voormalige vriendin, staan tans op dié aanklagte tereg in die hooggeregshof in Pretoria.
Prinsloo skryf voorts aan Tatiana: “Ek is na ’n beter tronk geskuif. Hulle behandel my nie sleg nie. Ek dink hulle is versigtig vir my omdat ek ’n buitelander is.
“Ons is vier in ’n sel. Die eerste dag het ek ingeloop en nog voordat hul kon ‘hallo’ sê, het ek gedreig daar sal groot probleme wees as hulle aan my raak. Nou is hulle vriendelik met my.”
Tatiana het Prinsloo in 2007 in Minsk, hoofstad van Belo-Rusland, ontmoet. Hy het hom aan haar voorgestel as Michael Grant van Australië.
Tatiana sê sy het tydens haar verhouding met Prinsloo gou besef daar is ook ander vroue in sy lewe – onder andere ene Svetlana, die ma van Prinsloo se tweejarige seun, Matveij.
“Hy was oortuig daarvan dat hy baie mag het oor vroue. Hy’t aan my gesê dis in die man se aard om ’n jagter te wees en soveel vroue moontlik vas te trek.”
Tatiana sê sy en Prinsloo het ’n normale seksuele verhouding gehad.
Hy het haar nooit rede gegee om te vermoed hy koester seksuele drange jeens kinders nie.
“Hy is vleiend en interessant en fassineer mense.
“Hy het hier selfs polisiemanne as vriende gehad.”
Prinsloo skryf dat sy honde beter kos gekry het as wat hy in die tronk eet.
En al die lawaai in die tronk maak hom mal.
“Ek slaap net vier uur per nag. Ek word gedurig wakker gemaak deur ’n simfonie van snorke of deur die treine wat verby ons gebou loop.
“Daar is een ou wat ek regtig nie kan hanteer nie. Hy rook elke tien minute en is nou al 17 jaar agter tralies en hy praat so hard, my ore pyn.
“As ons uit die selle gelaat word om buite te stap, speel hulle die radio oorverdowend hard sodat ons nie met mekaar kan praat nie,” skryf Prinsloo.
Finale vertoë is Vrydag in Visser se verhoor aangehoor. Adv. Andries Fourie, vir die staat, het gesê Visser het keuses uitgeoefen en gekies om Prinsloo se seksuele aptyt te bevredig.
Adv. Johann Engelbrecht, SC, vir Visser, het egter gesê sy het onder dwang opgetree. Hy het Prinsloo “ ’n vark en ’n seksuele sadis” genoem.
Die hof lewer op 6 Oktober uitspraak in Visser se saak.
– Rapport