Makietie bring miljoene in
2012-01-01 09:02
Jacques Steenkamp, Lizel Steenkamp en Suné Kitshoff
Bloemfontein – Bloemfontein se “rykes”, onder wie ’n sakevrou wat in talle maatskappye se direksies dien, gaan die meeste skep uit die ANC se peperduur eeufeesmakietie.
Rapport het vertroulik verneem me. Palesa Pretty Rantsoareng (46) sal waarskynlik miljoene rande uit die eeufees verdien.
Rantsoareng besit verskeie hotelle, asook die luukse Ilanga Estate langs die Woodland Hills-landgoed.
Sy is boonop die medebestuurder van die Philip Saunders-oord buite Bloemfontein wat onlangs teen sowat R150 miljoen op belastingbetalers se koste opgeknap is.
’n Werknemer van die oord het bevestig Rantsoareng is verantwoordelik vir die verblyf van die ANC se topbestuur en die besoekende staatshoofde.
“Die president (Jacob Zuma) se vroue en die meeste ministers gaan hier bly, maar hy (Zuma) gaan in een van daai groot huise in Woodland woon.
“Rantsoareng reël vir die ander mense om by Woodland te bly,” het die werknemer gesê.
Rantsoareng, wat volgens die registrateur van maatskappye en intellektuele eiendom (Cipro) ’n aktiewe direkteur van ongeveer 25 maatskappye is, het ontken dat dit die geval is en daarna geweier om verdere oproepe vanRapport te beantwoord.
“Ek verkoop (verhuur) net my hotelle se kamers. Ek het nog nie die kontrak met die regering vir die verhuring van Woodland geteken nie,” het sy gesê.
Sowat 220 ANC-amptenare sal vandeesweek in die Philip Saunders-oord se luukse chalets gehuisves word waar daar ’n gimnasium, swembad, saunas en tennisbane is.
Intussen kla ’n inwoner van die stad se luukse Woodland Hills-landgoed net die rykes gaan by die ANC se geskiedkundige viering baat vind.
“Die mense wat hier bly, het reeds hul geld gemaak. Hoekom help die regering nie die gastehuise in die townships nie?” vra mnr. Themba Mahenye.
“Die ANC se stryd het oor die armes gegaan en in die townships begin. Die mense in die townships het nie by die Wêreldbeker(-sokkertoernooi) baat gevind nie en nou kry hulle weer ’n slegte deal. Laat een van my ander ‘broers’ ’n bietjie geld maak,” sê Mahenye.
Tientalle huise word ten duurste vir vyf nagte van die inwoners van Woodland Hills-landgoed gehuur om besoekende staatshoofde te huisves wat eindelik net twee nagte daar sal slaap.
’n Hotelgroep is gekontrakteer om die huise op die eerste dag van hoek tot kant netjies te maak en met spesiale beddegoed en handdoeke toe te rus.
“Hulle gaan tot sepies uitpak soos dit in hotelle gedoen word,” het ’n ingeligte gesê.
Op die tweede dag sal die polisie die huise beveilig en op die derde dag sal die uitgelese gaste intrek.
“Ons sal seker nie in daardie rigting mag kyk nie,” het ’n inwoner opgemerk.
Thabo Manyoni, uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, het boere in die streek vroeër gevra om hul grond beskikbaar te stel vir ANC-ondersteuners wat nog nie huisvesting het nie.
Maar volgens Henk Vermeulen, hoofbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), is die organisasie nooit formeel genader nie.
Hy is verbaas dat die township nie beter benut word nie omdat dit sal help om die gebied op te hef.
“Waarom wil jy iemand op ’n oop stuk grond op ’n plaas laat bly waar daar nie water of ablusiegeriewe is nie?”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport