'Mak' seekoei byt sy baas dood
2011-11-14 08:14
Orkney – Die buitengewone verhouding tussen ’n weermagmajoor en sy mak seekoei het hier in ’n treurspel geëindig toe dié dier hom doodgebyt het.
Maj. Marius Els (40), ook ’n deeltydse boer op die plaas Bellevue langs die Vaalrivier, is Saterdag laatmiddag deur sy seekoei Humphrey gebyt, die water ingesleep en doodgemaak.
Humphrey is later ’n paar treë van Els se lyk doodgeskiet.
Dié spesiale verhouding tussen Els en Humphrey het opslae gemaak in oorsese koerante, op YouTube en selfs op ’n internasionale TV-nuusbulletin.
Els het Humphrey, wat ongeveer vyf-en-’n-half jaar oud was, sowat vier jaar lank versorg en soos ’n troeteldier behandel. Die dier is as kalfie ten tyde van ’n vloed in Mpumalanga gered en daar is bespiegel dat hy nooit in die natuur sou kon aanpas nie.
Els het vroeër vanjaar gesê hy is ook deur sy twee vorige eienaars soos ’n troeteldier behandel en hy is geleer om saam met mense te swem. Hy het vertel dat die dier selfs toegelaat het dat mense sy tande borsel.
Els het hom ’n heenkome gegee nadat hy vir die ander mense te groot geword het.
Els het hom nie gesteur aan waarskuwings deur bure en vriende dat Humphrey steeds ’n wilde dier is en so behandel moet word nie, is aan Volksblad gesê.
“Ons het hom gewaarsku. Hy het nie ore gehad nie,” het ’n kennis, wat nie sy naam genoem wou hê nie en Sondag ná die voorval op die toneel was, gesê.
In Augustus vanjaar het die ongewone paar weer nuus gemaak toe Els se vennoot se kalwers op dié plaas vrekgebyt is en daar vermoed is dit was Humphrey se werk. Dit het toe ook aan die lig gekom dat Humphrey gereeld gholfspelers op die Orkney-gholfbaan en bure op hol gejaag het wanneer hy uit sy kamp breek.
Els het ná die voorval teruggekap deur die doodmaak van die kalwers te beskryf as “gemene spel” deur iemand om hom in ’n slegte lig te stel nadat die werkverhouding tussen hom en sy vennoot versuur het.
Hy het ook gesê Humphrey breek uit sy kamp “om sy sosiale lewe op te beur”, maar reageer op sy (Els se) stem en gaan dan gewoonlik rivierlangs terug na sy kamp.
“Ons moes vroeër vanjaar ’n 52-jarige oupa en sy sewejarige kleinseun, wat met ’n kano op die Vaalrivier geroei het, uit ’n boom red nadat dié seekoei hulle die skrik op die lyf gejaag het. Hulle het twee uur lank in die boom deurgebring voordat hulle gered is,” het Jeff Wicks, woordvoerder van Netcare 911, Sondag in ’n verklaring gesê.
Els het Humphrey “liefderik ’n gentle giant’’ genoem en het graag met dié reusedier, wat meer as 1 200 kg geweeg het, in ’n dam geswem wat spesiaal op die plaas vir hom gebou is.
Jaco Pieterse, nasionale woordvoerder van die Dierebeskermingsvereniging (DBV), het in Augustus gewaarsku dat wilde diere in die veld hoort en dat dié organisasie die aanhou van wilde diere as troeteldiere ten sterkste afkeur.
Els word oorleef deur sy vrou, Louise, ’n apteker en mede-eienaar van Medfour Consultants in Potchefstroom. Die egpaar was 12 jaar lank getroud en was kinderloos.
Sien die video van hoe Els en Humfrey destyds gespeel het.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad