Majoor 'sit rond en maak tee'; eis R3,5 m.
2012-02-01 08:05
Pretoria – ’n Vlieënier wat beweer nege senior offisiere het hom in die lugmag geviktimiseer, het Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria getuig hy moes by 2 Eskader vir sy meerderes tee maak en die res van die tyd net sit.
Andrea Serra (42) van Pierre van Ryneveld, Pretoria, nou ’n kommersiële vlieënier, eis in dié hof byna R3,5 miljoen vir verlies aan inkomste van die minister van verdediging.
Serra het in 2005 as majoor uit die lugmag bedank.
Hy het in 2003, terwyl hy by 2 Eskader by die die lugmagbasis Louis Trichardt (nou Makhado) was, die uitskietstoel van sy Cheetah-gevegvliegtuig gebruik nadat hy in die moeilikheid beland het.
Luidens sy hofstukke is sy dienskontrak met in die lugmag in 2003 hernu. Hy wou as vlieënier by 60 Eskader werk.
Volgens Serra is hy medies geskik verklaar as vlieënier/navigator en het op 1 Julie 2004 begin werk.
Hy beweer een of meer van nege offisiere het onbillik teen hom gediskrimineer en hom geviktimiseer.
Hy het gister getuig hoe hy heen en weer tussen 60 Eskader en die lugmaghoofkwartier gestuur is.
By 60 Eskader is hy van ’n kursus verwyder omdat daar glo nie geld was om hom op te lei nie. Daar is toe gesê hy kan nie verder sonder toesig vlieg nie.
Hy is toe teruggestuur na 2 Eskader “waar ek die tyd omgekry het deur op ’n stoel te sit”.
“Ek het nie gevlieg nie. Op papier kon ek vlieg. Ek behoort my werk te gedoen het, maar is daarvan weerhou.”
Hy het dit bevraagteken toe hy daarna Pretoria toe ontbied is vir ’n sielkundige evaluering weens sy persoonlike omstandighede.
In die hoofkwartier was hy van Mei 2003 tot begin 2004 in ’n leë kantoor met ’n rekenaar en sonder ’n werksomskrywing.
Daarna het by 60 Eskader tee gemaak vir senior personeellede “en gesit”.
In die hoofkwartier is gesê sy verhouding met sy vrou moet ondersoek word en dat hy sielkundige toetse moet ondergaan.
Volgens Serra moes hy drie weke lank die mees basiese toetse ondergaan weens die uitskiet uit die Cheetah. Die saak duur voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld