Maharaj dien klagtes in teen koerant
2011-11-19 17:00
Johannesburg – Prokureurs van Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, het Saterdag aanklagte teen die Mail & Guardian en twee joernaliste ingedien.
“Prokureurs van Mac Maharaj het klagtes teen mnre. Sam Sole, Stefaans Brümmer en die Mail & Guardian-koerant ingedien nadat hulle artikel 41 (6) van die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag oortree het,” het Maharaj in ‘n verklaring gesê.
Die polisie is ook gevra om ondersoek in te stel of enige dokumente van die Nasionale Vervolgingsgesag gesteel is.
Die aanklagte hou verband met Vrydag se uitgawe van die koerant. Op die voorblad van die koerant was ‘n foto van Maharaj langs die woorde: "Gesensor. Ons kan hierdie storie nie volledig publiseer nie as gevolg van 'n dreigement van kriminele vervolging."
Groot swart blokke was oor driekwart van die blad gedruk, waar die storie gepubliseer sou word.
Die koerant sou inligting van 'n onderhoud ingevolge artikel 28 van die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag wat met Maharaj gevoer is, publiseer.
Die wet maak dit ‘n misdaad om enige bewyse wat in camera verkry is te publiseer en ‘n maksimum vonnis van 15 jaar tronkstraf kan opgelê word, het die Mail & Guardian Donderdagaand berig.
Nic Dawes, redakteur, hou egter voet by stuk dat die koerant nie 'n oortreding begaan het nie en het gesê die koerant gaan regsadvies inwin.
“Die publiek het ‘n reg om te weet.
"Ons glo dat ons die reg het om die inligting te publiseer. Dit opper ernstige vrae oor die gedrag van 'n man wat namens die president praat."
Maharaj het in 'n verklaring gesê die koerant het die dokumente op 'n onwettige wyse bekom.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA