Magnus Malan se nederigheid besing
2011-07-24 08:00
Kaapstad - Genl. Magnus Malan, voormalige minister van verdediging en oudhoof van die weermag, is Saterdag op sy gedenkdiens geloof as “die generaal onder generaals”.
Sowat 200 mense, onder wie verskeie oudparlementslede, die kardioloog dr. Wouter Basson en oudministers Adriaan Vlok, drr. Dawie de Villiers, Kraai van Niekerk en Lapa Munnik, het die gedenkdiens in die NG kerk Welgemoed in Bellville bygewoon.
Ds. Johann Symington het voorgegaan uit Malan se gunstelingdeel in die Bybel, 1 Johannes 4, en die rouklaers het Psalm 23 se ou beryming, sy gunstelingspsalm, aangehef.
Symington het Malan, wat Maandag in die ouderdom van 81 jaar oorlede is, beskryf as ’n nederige mens wat altyd sy plig gedoen het soos hy sy plig op enige gegewe tydstip gedefinieer het.
Symington het gesê Malan wou geen militêre of staatsbegrafnis hê nie, maar ’n gewone begrafnis vir sy kennisse en vriende in die gemeente waar hy ’n gewone lidmaat was.
Symington het voorts gesê mense se menings oor Malan se bydrae verskil. Die arm van die geskiedenis is baie langer as enigeen se huidige oordeel.
Stryder teen kommunisme, medebouer aan die Suid-Afrikaanse demokrasie, opbouer van Afrika se magtigste weermag en liefdevolle gesinsman was ’n paar van Malan se eienskappe wat Symington uitgelig het.
Die sterk rol van die militêre magte in Malan se lewe is deur Symington opgesom in die titel van die generaal se outobiografie, My lewe saam met die SA Weermag.
“Genl. Malan het onwrikbaar geglo hy het te alle tye sy bes gedoen vir al die mense van Suid-Afrika,” het Symington gesê, ook toe hy in sy laaste paar maande baie swaar gekry het.
In sy huldeblyk het genl. Gert Opperman, hoof van die Voortrekkermonument, na Malan verwys as “die generaal onder generaals”.
Opperman het oor Malan se militêre loopbaan gesê hy was “telkens verreweg die jongste persoon op die verskillende rangvlakke op pad na die pos van hoof van die SA Weermag – ’n pos wat hy met uitnemendheid gevul het”.
Oor Malan se onverskrokkenheid het Opperman gesê daar was vir hom een ding wat erger was as om ’n fout te begaan of ’n verkeerde besluit te neem.
“Dit was om niks te doen nie, of nie ’n besluit te neem nie omdat jy bang is jy begaan dalk ’n fout. Sulke mense, ja-broers en manteldraaiers, het nie ver met hom gekom nie.”
Hy het gevra dat Malan in die konteks van sy tyd beoordeel word en gesê dit was Malan wat die weermag van ’n volksweermag in ’n meer verteenwoordigende gevegsmag omskep het.
Basson het buite die kerk gesê hy het Malan ontmoet toe die generaal in 1975 malaria gehad het.
“Hy het my onder sy vlerk geneem. Hy het my geleer van mens wees, soldaat wees en van die fyn dinge in die lewe,” het Basson gesê.
Malan word oorleef deur sy vrou, Margot, drie kinders en nege kleinkinders. Sy as sal in die gedenkmuur by die Voortrekkermonument bewaar word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport