Madonsela: 'Dis nie oorlog nie'
2011-07-06 13:46
Johannesburg – Adv. Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, het gesê sy is nog nooit deur die polisie ondervra oor bewerings van bedrog en korrupsie nie.
Sy het ook gesê dat daar sover sy weet nie 'n saaknommer is vir die aantygings teen haar nie.
"Ek is net so geïnteresseerd om te weet wanneer en deur wie die klag ingedien is.
"Is dit 'n oorlogsverklaring? Ek hoop nie so nie. Ek is nie in 'n oorlog met iemand gewikkel nie."
Madonsela het gesê sy is meer hartseer as kwaad omdat sy 'n amptenaar van die mense en die regering is.
"Ek het tot nou gedink en is aan die kant van die regering. Met dit gesê, glo ek nie die hele regering is betrokke in enige ongerymdhede nie."
Madonsela het ook gesê sy gaan 'n vergadering met die speaker belê oor haar veiligheid.
The Star het Woensdag berig dat Madonsela haar glo skuldig gemaak het aan bedrog en korrupsie terwyl sy werksaam was by die SALRC.
Volgens "onafhanklike bronne" het Madonsela se maatskappy glo werk vir die SALRC gedoen en is R1,8 miljoen betaal terwyl sy drie jaar gelede daar gewerk het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24