Madiba-veiling lewer R3 miljoen op
2011-07-18 08:46
Kaapstad - Altesaam R3 miljoen is Saterdagaand op ’n gala-ete en veiling in die Kaapse stadsaal ter viering van oudpres. Nelson Mandela se 93ste verjaardag vandag ingesamel.
Sowat 500 uitgesoekte gaste, onder wie talle bekendes soos die Oscar-bekroonde akteur Djimon Hounsou en sy vrou, die model Kimora Lee Simmons, prins Harry se voormalige meisie Chelsy Davy, Ashwin Willemse, Elana Meyer, Jimmy Dludlu, Patrice Motsepe, Kenny Kunene, dr. Mamphela Ramphele en Chester Williams het die spoggeleentheid bygewoon.
Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, was die gasvrou en het die hooftoespraak gelewer. De Lille het aangekondig dat ’n heeltydse uitstalling van Mandela se lewe in samewerking met die Nelson Mandela-stigting en die Rhodes-trust in die stadsaal gehou sal word.
“Hierdie nalatenskap sal die mense van Kaapstad in staat stel om toegang tot inligting oor Madiba se lewe te kry en daarvan te leer,” het De Lille gesê.
Die veiling van die reuse-lapdoek van 5 m by 4 m was die hoogtepunt van die aand en is deur British American Tobacco vir R2,5 miljoen gekoop.
Die geraamde doek bevat 67 handafdrukke van bekendes soos prins Albert van Monaco, Simmons, dr. Danny Jordaan, oudpres. F.W. de Klerk, Sol Kerzner, Graeme Smith, emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, Kader Asmal, Morgan Freeman en Raymond Ackerman.
Die geld sal aan die Nelson Mandela-stigting geskenk word.
Mense word elke jaar op Madiba se verjaardag aangemoedig om 67 minute van hul dag te gebruik om ’n verskil in ander mense se lewe te maak.
Ander artikels wat opgeveil is, sluit in ’n paar ontwerperskoene wat aan die pop-ikon Grace Jones behoort het, ’n getekende manuskrip van die fliek Blood Diamond, ’n spesiale Mandela-T-hemp wat deur Simmons en Honsou ontwerp is en ook verskeie luukse vakansies.
Die R500 000 wat hiermee ingesamel is, sal aan die Rooikruis-kinderhospitaal en die Beautiful Gate-organisasie vir kinders met MIV/vigs geskenk word.
- Volksblad