Madiba se gesig op nuwe banknote
2012-02-11 15:32
Pretoria – Oudpres. Nelson Mandela se gesig sal op 'n nuwe reeks banknote verskyn, het pres. Jacob Zuma Saterdag in Pretoria aangekondig.
Dié note sal Suid-Afrikaners help om te onthou wat hulle bereik het, het Zuma aan verslaggewers gesê by 'n funksie wat ook deur Gill Marcus, goewerneur van die Reserwebank, en Pravin Gordhan, die minister van finansies, bygewoon is.
Marcus het gesê die nuwe banknote sal stelselmatig ingefaseer word, en dat die huidige reeks note steeds ná die bekendstelling wettig gebruik kan word.
Die gebrek aan besonderhede oor die aankondiging wat pres. Zuma sou maak, het die rand vroeër Saterdag met sowat 2,5% teen die dollar laat tuimel.
Handelaars was bekommerd dat die Sentrale Bank van Afrika se grootste ekonomie 'n drastiese beleidverandering of aanstelling sal maak terwyl die markte gesluit is.
Ná aankondigings van bankbeamptes, wat gesê het dat die nuus nie oor rentekoerse of bedankings sal wees nie, het die rand vinnig herstel.
Dié aankondiging sou aanvanklik om 13:00 gemaak word, maar is toe tot 15:00 verskuif.
– Volg Nuus24 op Twitter