Madiba sal nie ANC-eeufees bywoon
2012-01-06 11:29
Kaapstad – Oud-pres. Nelson Mandela sal nie die ANC se eeufees-vieringe die naweek in Bloemfontein bywoon nie.
Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die party, sê hy het Madiba in die Oos-Kaap besoek.
Mantashe sê hoewel Mandela gesond is, sal hy nie na Bloemfontein reis nie, het RSG berig.
Luidens die radiostasie het Mantashe 'n beroep op Suid-Afrikaners en lede van die ANC gedoen om te verstaan waarom Madiba nie die feesvieringe sal bywoon nie.
Intussen gaan senior-lede van die party vandag regdeur die Vrystaat ontplooi word om mense aan te moedig om die naweek se eeufees by te woon.
Pres. Jacob Zuma sal Botshebelo buite Bloemfontein besoek terwyl die adjunk-president, Kgalema Motlanthe, vanmiddag 'n mini-saamtrek in Kroonstad sal toespreek.
Julius Malema, geskorste leier van die ANC se jeugliga (ANCYL), sal 'n saamtrek in Thaba Nchu toespreek.
Malema het Donderdag tydens sy toespraak in Welkom 'n beroep op sy ondersteuners gedoen om Zuma die respek te betoon wat hom toekom, het die radiostasie berig.
Volg Nuus24 op Twitter