'Madiba g'n siek'
2009-10-30 14:38
Johannesburg – Oudpres. Nelson Mandela se gesondheid is goed, ten spyte van gerugte wat die ronde doen.
“Die feit is, mnr. Mandela doen so goed as wat enigeen van ‘n 91-jarige kan verwag. Hy het 'n aktiewe en veeleisende lewe gelei,” het Jakes Gerwel, voorsitter van die Nelson Mandela-stigting gesê.
“Hy moet natuurlik meer rus as voorheen, en geniet sy welverdiende uittrede. Hy het dus onlangs besluit om van sy verpligtinge te sny, om meer tyd saam met sy familie deur te bring.”
Gerugte het die ronde begin doen dat Mandela grafsiek is, en dit het veroorsaak dat diegene rondom hom begin vrae vra het.
Hy was nog altyd openlik oor sy gesondheid, en het in 2001 ‘n persoonlike aankondiging gemaak toe hy met prostaatkanker gediagnoseer was.
“Mense regoor die wêreld kan dus verseker wees dat mnr. Mandela en sy familie sal voortgaan met die tendens, en sal die publiek op hoogte hou sou daar enige verandering in sy gesondheidstoestand wees.”
“In die tussentyd vra ons aan almal om mnr. Mandela se privaatheid en dié van sy familie te respekteer.”
- Sapa