Mac dien klag in oor 'diefstal'
2011-11-20 09:55
Adriaan Basson en Paddy Harper
Johannesburg en Durban – Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, het strafregtelike klagte teen Mail & Guardian ingedien omdat die koerant volgens hom “onwettig” regeringsrekords bekom het.
Volgens Maharaj het die koerant die Wet op die nasionale vervolgingsgesag (NVG) oortree.
Hy het die polisie gevra om ondersoek in te stel na die moontlike diefstal van rekords van NVG-ondersoeke.
Dít kom nadat die NVG ontken het dat hulle reg gestaan het om Mail & Guardian en sy joernaliste te vervolg vir die besit van dokumente wat met ’n seksie 28-ondersoek na Maharaj te make het.
Die seksie 28-ondersoek berus daarop dat getuienis wat Maharaj, voormalige minister van vervoer, in ’n destydse Skerpioene-ondersoek gelewer het, geheim moes bly. Hy is ondervra as deel van ’n korrupsie-ondersoek.
Mail & Guardian het besluit om nie die dokumente te publiseer nie nadat Maharaj se prokureur hulle gewaarsku het dat hulle strafregtelik vervolg kan word en dat hul joernaliste tronkstraf van tot 15 jaar opgelê kan word vir die publisering van inligting wat deur ’n seksie 28-ondersoek verkry is.
Die dokumente toon na bewering dat Maharaj vir die Skerpioene gelieg het oor ’n aangeleentheid wat met die wapentransaksie verband hou.
Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die NVG, het aan City Press, susterkoerant van Rapport, gesê dié liggaam gaan nie teen Mail & Guardian optree nie totdat ’n polisiedossier ontvang is.
Nic Dawes, redakteur van Mail & Guardian, het getweet: “Ons is skuldig aan joernalistiek, maar het geen misdaad gepleeg nie.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport