Mac Maharaj ontken hy het geld ontvang
2011-11-21 08:03
Kaapstad – Hy was tydens sy termyn as minister van vervoer by “geen korrupsie of omkopery” betrokke nie, het Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, gesê.
Maharaj is Sondag in die Sunday Times daarvan beskuldig dat hy en sy vrou, Zarina, tussen 1997 en 1999 omkoopgeld van sowat R2,3 miljoen van ’n Franse wapenvervaardiger, Thales, ontvang het.
Maharaj was toe minister van vervoer. Luidens ’n berig in die Sunday Times is die betalings aan die Maharaj-egpaar via Switserse bankrekenings van Minderley Investments, ’n maatskappy wat aan Schabir Shaik behoort het, gedoen.
Thales en sy voorganger, Thompson CSF, het dié rekenings volgens die koerant as ’n kanaal gebruik om geld oor te betaal.
Jan-Jan Joubert berig dat Maharaj Sondag in ’n TV-onderhoud geweier het om te bevestig óf te ontken dat hy vir die eertydse teenmisdaadeenheid die Skerpioene gelieg het.
Justice Malala het Maharaj op e.tv ses keer reguit gevra of hy gelieg het in ’n 2001-onderhoud met die Skerpioene, wat deel van ’n groter ondersoek na die regering se wapenaankope was. Maharaj het telkens die vraag onbeantwoord gelaat.
Dit kom nadat die Mail&Guardian ’n afskrif van die onderhoud bekom het en op grond daarvan in die opskrif van die berig en op sy plakkate na Maharaj as ’n leuenaar verwys het.
Sedertdien het die koerant se redakteur, Nic Dawes, die stelling dat Maharaj vir die Skerpioene gelieg het verskeie kere herhaal.
Dawes het Sondagmiddag by navraag gesê dit was ’n merkwaardige onderhoud omdat Maharaj geweier het om te ontken hy het gelieg.
“Enigiemand wat nie die vertroue het in sy eie optrede om op so ’n eenvoudige, maar kritiek belangrike vraag te antwoord nie, behoort dadelik uit die openbare lewe te tree en sy pos te bedank.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger