Maatskaplike werkers ondersoek in porno-saak
2010-12-13 16:15
Pretoria – Maatskaplike werkers wat twee kinders in die sorg geplaas het van 'n paartjie wat in hegtenis geneem is vir kinderpornografie, word ondersoek, het Pretoria News Maandag berig.
Dié paartjie staan saam met ses mense tereg op aanklagte van kinderpornografie.
Die Suid-Afrikaanse Raad vir Professies in die Maatskaplike Diens ondersoek maatskaplike werkers van die Christelike Maatskaplike Raad Noord (CMRN) wat die kinders in die paartjie se sorg geplaas het.
Die koerant het berig dat Iveda Smith, registrateur van die raad die CMRN van die ondersoek in kennis gestel het en dat kontakbesonderhede sowel as 'n verslag van die saak aangevra is.
Die egpaar en ses ander familielede is op 2 Desember in hegtenis geneem. Hulle het in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn om aansoek te doen om borgtog.
Almal het skuld ontken en die pleegouers – 'n 58-jarige man en sy vrou – beweer die kinders is mishandel voordat hulle in hul sorg geplaas is.
Die man het die die Pretoria-Noord-landdroshof getuig dat die kinders se gedrag so bisarre was dat hy om hulp by maatskaplike dienste aangeklop het, maar sy pleidooie het volgens om op dowe ore geval.
Die raad is 'n statutêre liggaam wat die maatskaplike dienste professie ingevolge die Wet op Maatskaplike Diens Beroepe reguleer.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA