Maak só as beamptes omkoopgeld vra
2011-11-30 09:05
Kroonstad – As ’n Vrystaatse verkeersbeampte jou hierdie feestyd probeer omkoop, bel jy sy grootbaas sommer op sy selfoon.
Lehana Leeto, direkteur van die Vrystaatse verkeersafdeling, het Dinsdag hier op die bekendstelling van die veldtog Kom Veilig Daar gesê korrupte verkeersbeamptes gaan nie geduld word nie.
Motoriste wat in die feestyd weens verkeersoortredings afgetrek word en deur verkeersbeamptes gepols word om omkoopgeld te betaal om boetes vry te spring, moet hom persoonlik bel, het Leeto gesê.
Sy selfoonnommer is 082-728-6911 en sy kantoornommer is 051-403-7400.
Butana Komphela, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, het op die bekendstelling van die veldtog gesê veiligheid begin by elke padgebruiker.
Die Vrystaat het verlede jaar die minste padsterftes in die feestyd gehad en sy departement wil verder hierop verbeter. Motoriste en vragmotorbestuurders moet dit weet.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad