Maak plaagdoder skoolkinders siek?
2010-09-19 08:50
Kaapstad - ’n Uitsoekskool in die hartjie van die Durbanville-wynlandstreek is
onder skoot ná aantygings dat van die leerlinge tekens van vergiftiging
getoon het weens plaagdoders wat op wingerde in die omgewing gespuit is.
’n
Groep gesinne skryf hul kinders se gehoes, veluitslag, rooi oë,
loopneus en toe bors toe aan die gifstowwe waarmee die wingerde van die
spogwynlandgoed Nitída bespuit word.
Maar omgewingskundiges wat
deur die skool geraadpleeg is, sê hulle is huiwerig om dié simptome met
chemiese landbouprodukte te verbind.
Die Chameleons Montessori-
private skool is al sedert 1989 op die landgoed. Die skool het 105
voorskoolse en laerskoolleerlinge.
Een van die ouers, die
kunstenaar Ford Hallam, het aan Rapport gesê hy het sy seun, Joel (8),
twee maande gelede uit die skool gehaal nadat hy die simptome getoon
het.
In sy gesprekke met ander ouers het dit aan die lig gekom
dat nog kinders sulke simptome het. Ouers was ook besorg oor ’n “taai
laag” op van die meubels in die skool.
Hallam het uitgebreide
navorsing begin doen oor die invloed van plaagdoders op mense. Dit het
daartoe gelei dat nog agt gesinne hul kinders uit die skool gehaal het.
’n Onderwyser – een van ’n personeel van 17 – het ook intussen die skool verlaat, glo ook omdat sy kwaai gehoes het.
“My
navorsing skilder nie ’n mooi prentjie nie,” sê Hallam. “As jy
afsonderlik na die gevalle kyk, onderskat jy dit. As jy na die geheel
kyk, skrik jy.”
Hallam grond sy vrese op die navorsing oor plaagdoders van ’n Wes-Kaapse omgewingsgeesdriftige, Jurgen Schirmacher.
Die
skool het intussen ook met uitgebreide navorsing begin, onder meer saam
met akademici van die universiteite van Kaapstad en Stellenbosch, en
omgewingsamptenare van die stad en provinsie.
“Ons maak staat op
kundiges se advies. Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en mnr.
Bernard Veller, eienaar van Nitída,het die navorsing gedoen,” sê die
skoolhoof, Emma Medell.
Die skool het ’n omgewingskomitee op
die been gebring waarin ouers en onderwysers dien. Van hul maatreëls is
die aanplant van ’n ry bome wat spuitstowwe in die lug van die skool kan
wegkeer, die span van ’n 3?m hoë doek om die skool, asook die
onderneming van Veller dat geen bespuiting sal plaasvind wanneer ’n wind
van 15 km/h of sterker waai nie.
Geen klagtes is tot dusver deur ’n private plaasskool op ’n aangrensende landgoed, asook ’n staatskool daar naby, geopper nie.
Medell
en die onderhoof, Claire Goffe-Wood, en die voorsitter van die
beheerraad, dr. Brendon Bailes, sê daar is geen konkrete bewys wat die
chemikalieë met die kinders se simptome verbind nie.
“Baie
beskuldigings en irrasionele aantygings het rondgevlieg. Die skool het
egter die laaste maande alles in sy vermoë gedoen om die toetse te laat
doen om ’n moontlike verband tussen plaagdoders en die simptome te
vind.”
Gesondheidsamptenare met wie KaapRapport gesels het, sê die skool kom alle wetlike regulasies na om sy leerlinge te beskerm.
Hallam
sê egter: “Niemand kan met sekerheid sê hierdie plaagdoders is
onskadelik nie. As wetenskaplike bewyse nie dadelik daar is nie, is dit
nie te sê kinders – wat vyf keer méér vatbaar is vir besmetting – gaan
nié skade opdoen nie.
“Ons land se wette oor landbouchemikalieë is in 1947 geskryf. Moenie my vertel dat sulke verouderde wette nog relevant is nie.
“Ek
kan nie toelaat dat my kind met ’n valse gevoel van veiligheid
grootword nie. Die werklikheid is dat ons so min oor dié soort
vergifting weet dat ons liewer voorsorg moet tref.”
- Rapport