‘Maak grondhervorming los van ras’, maan FW
2010-06-02 07:24
Kaapstad – Oudpres. F.W. de Klerk het ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering gedoen om rasgebonde benaderings tot grondhervorming te laat vaar en gesê onlangse uitlatings deur kabinetslede wat dit aanspoor, beduiwel nasionale eenheid.
De Klerk het gister die Kaapse Agri-werwingsorganisasie oor die uitdagings rondom grondhervorming toegespreek.
“Dit sou ’n fout wees om die emosionele verbintenis van baie swart Suid-Afrikaners tot wat hulle beskou as die noodsaak van grondhervorming te onderskat.
“Vir hulle sal die revolusionêre stryd nie verby wees totdat ’n wesenlike – en moontlik selfs ’n demografies proporsionele – gedeelte van Suid-Afrika terug in swart besit is nie.”
Volgens De Klerk word hierdie feit geïllustreer deur ’n toespraak verlede week deur die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, mnr. Gugile Nkwinti, toe hy sy opspraakwekkende uitlating herhaal het dat “alle anti-koloniale stryde in wese oor twee dinge gaan: die herbesit van verlore grond en die herstel van die sentraliteit van die inheemse kultuur om alle nasieboupogings te onderskraag”.
Volgens De Klerk impliseer dit dat die anti-koloniale stryd nog nie verby is nie; dat wit boere blykbaar nog as “kolonialiste” of die begunstigdes van “kolonialiste” beskou word, en die idee van die sentraliteit van die inheemse kulture.
“Blykbaar moet ander kulture dan ’n randstandige rol speel in die nasie wat minister Nkwinti wil bou,” het De Klerk gesê. “Sulke idees is geheel en al onversoenbaar met ons Grondwet en met die behoefte om nasionale eenheid te bevorder.
“Net soos dit ’n fout sal wees om die gevoelens van baie swart Suid-Afrikaners oor grondhervorming te onderskat, sal dit ook ’n fout wees om die emosionele verbondenheid van wit Suid-Afrikaners tot hul grond, hul professie en tot Suid-Afrika te onderskat.
“Ons kan nie ’n situasie bekostig waar Suid-Afrikaanse burgers – bloot weens hul ras – gedwing word om hul plase prys te gee wat hul gesinne oor geslagte heen ontwikkel het nie.
“Grondhervorming is tereg ’n dringende prioriteit vir ons almal. Ons sal egter nie suksesvol wees indien ons mekaar teiken as ‘kolonialiste’ en ‘anti-kolonialiste’ nie; as inheems en nie-inheems; as mense wat aanspraak kan maak op ’n sentrale kulturele posisie en mense wat kulturele randeiers is nie.”
Hy het ook die “waarskynlik ongekoördineerde” voorstelle oor ’n aandeleskema vir swart boere deur die minister van landbou, me. Tina Joemat-Pettersson, gekritiseer.
Volgens hom moet die doeltreffendheid van staatsdepartemente en instellings wat betrokke is by grondhervorming ook verbeter word.
- Die Burger
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger