Ma wroeg oor moord op kind
2012-01-08 09:47
Kaapstad – “My seun is beter daaraan toe. Eendag sal ek my optrede aan hom verduidelik. Soen jou kinders namens my. Stuur my salaams aan almal. En vra dat hulle my vergewe.”
Mishqah Hendricks (24), suster van die Kaapstadse kleuterskoolonderwyseres wat weens die moord op haar seun, Taariq (2), in hegtenis geneem is, sê dié boodskap van Zulpha Jacobs Donderdag uit die siekeboeg van die Pollsmoor-gevangenis dui op haar wroeging oor haar kind se dood.
“Ek het antwoorde by haar gaan haal. Maar Zulpha weier om te praat oor die moord wat sy erken het.”
Jacobs het Taariq die vorige Donderdag as vermis aangemeld.
Sy lyk is op Oujaarsdag in ’n vlak graf op ’n duin in Mitchells Plain gevind en sy ma het op dié dag teenoor die polisie erken sy het haar seuntjie doodgemaak.
Sy verskyn weer môre op aanklagte van moord en kinderverwaarlosing in die hof.
Die polisie ondersoek nou ook weer die dood van nóg twee van Jacobs se kinders.
Haar dogter, Naeelah (byna 2), het glo jare gelede aan pap verstik en haar seun Sabri (byna 3) het kort daarna CD-skoonmaakvloeistof ingekry, het Hendricks aan Rapport gesê.
“Dis wat aan my vertel is. Ek hoor ook Sabri het brandwonde van die vloeistof aan sy mond gehad.”
Honderde inwoners van Mitchells Plain het Dinsdag by die hof betoog en laat blyk hulle soek Jacobs se bloed.
Hendricks, wat met die Moroka Swallows-sokkerspeler Ashraf Hendricks getroud is, het Vrydag vertel van die familie, gemeenskap en polisie se drie dae lange soektog na Taariq nadat Jacobs gesê het sy het hom in ’n winkelsentrum “verloor”.
“Ek het onraad begin vermoed toe sy ons verlede Saterdag leidrade begin gee het waar om te soek. Ek het aan haar gesê sy moet sê waar hy is, sodat sy siel in vrede kan rus.”
Taariq is uiteindelik, “met sy gesiggie in die sand, sy voete in koerantpapier toegedraai en my suster se baadjie oor hom, in die bosse gekry. Dis duidelik Zulpha het vir ons stukkies van die legkaart gegee – ons moes dit net pak.
“Ons is stom. Dis nie die meisie saam met wie ek grootgeword het nie. Sy is ’n goeie vrou en het ’n kwalifikasie in vroeë-kindontwikkeling. Almal het gepraat oor hoe goed sy haar skooltjie hier in ons garage bedryf.”
Hendricks sê Jacobs was begin Desember by haar en haar gesin in Johannesburg.
“Sy het baie gehuil, maar wou nooit sê wat verkeerd is nie; net dat haar skoonouers en man, Walied, haar uit hul huis geskop het.
“Walied wou nooit werk nie. My suster was die broodwinner.”
Sy ma, Farida Jacobs (50), ontken dit.
“My seun het in ’n winkelsentrum gewerk. Ons het hom nog by sy werk gebel toe Taariq weggeraak het.
“Wat ons nou van Zulpha hoor, is nie hoe ons haar ken nie. Sy was ’n liewe mens, maar sy het uit haar huwelik weggeloop. Sy was soms domastrant, vermakerig – nie een wat na iemand anders se raad luister nie.
“Toe ons Taariq begin soek het, was Zulpha die hele tyd by.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport